Die Taal van die Wind
En soms as die windjie sy liedjie kom sing,
In boomtoppe hoog sy boodskappies bring:
Dan wonder ek vêr langs wat sou hy wil sê?
Na wat is sy soektog, en wat wil hy hê?
Of sing hy uit vreugde of praat hy van leed?
En waarom sy suising oor velde so breed?
En wie van die mensdom verstaan sy gefluister?
Ja, wie in die wêreld sal stilstaan en luister?
Ons sing as ons bly is en sing as ons treur.
Ons sing van die lente en blomme se geur.
Ons sing van die liefde en bande gesmee,
Ja, meer selfs as van onse leed en ons wee.
Dan waarom so rusteloos die windjie se gang?
En waarom so treurig sy boodskap en sang?
Kom leer die geheime van sagte gefluister,
Dat ons na die taal van die windjie kan luister.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 21 Oktober 1945